Kleinkaap Feb 2019
DEURnis een-tot-een
PAKKET 1

Skaam
“As ek moet erken dat ek skuldig is aan iets, dan is daar net een ding: skaamte. Skaam oor elke skop, elke vuishou, elke kneusplek wat ek toegesmeer het.”
Met Roche van Blerk
Teks: Erna Jo
Regie: Johan van der Merwe

Droom
Ons elkeen droom… sien uit na daardie onwaarskynlike, maar bereikbare, eendag. Droom nooi jou in – net vir ‘n oomblik – om te ontsnap daarheen. Word deel van dié multimedia-produksie – ‘n eerste vir DEURnis.
Met Ignatius van Heerden
Konsep en choreografie deur: Ignatius van Heerden
Regie: Lihan Pretorius
Animasie: Naret Loots
In samewerking met leftfoot productions

Witvlag
‘n Jong hart. ‘n Optog deur die are. ‘n Kind met sy wortels in vandag. Stoei met die onbeantwoordbare, en die plek van liefde is die nag.
Met Llewellyn Steenkamp
Teks en regie: Nico Scheepers
PAKKET 2

Gra(a)f
Kort na ‘n gru-moord, met die moordwapen steeds in sy hand, moet hy besluit of hy die enigste getuie daarvan kan laat gaan, of in dieselfde graf moet begrawe as sy slagoffer. ‘n Riller met deernis.
Met Herman Vorster
Teks en regie: Henque Heymans

Skei
Melanie boer by die skeihof. Van haar en Flip se eerste raakdrink in ‘n ladies bar tot hul uitkamp-honeymoon is daar nou min sprake. Vandag gaan sy hom los, maar eers moet sy vertel wat daai aand by die Zillertal gebeur het.
Met Erna Jo
Teks: Braam van der Vyver
Regie: Tiaan Slabbert
PAKKET 3

Perfek
"Jy het seker al baie gehoor van die wit en die swart swaan. Die meisie wat in ‘n swaan verander word en liefde nodig het om die vloek te breek, maar dan raak haar prins verlief op die verkeerde vrou en sy maak haarself dood. Dis so hartseer. En mooi."
Met Danielle Retief
Teks: Danielle Retief
Regie: Karen Retief

Lem
"Ek wou haar kerf soos biltong tot daar niks oorbly nie... Toe ek ‘n laaitie was, het ek geweet vergifnis, “liefde” en sulke crap is vir mense wat badkamers met warm krane het. Dis maklik om goed te wees as jou gat vol seep en deodorant is."
Met Tiaan Slabbert
Teks: Celia du Toit
Regie: Ben Pienaar

Kwas
‘n Esel, skoon papier, kwasse en verf. Jy is die kunstenaar en Esther poseer. Net miskien kry jy meer as wat jy voor gehoop het. Terwyl jy kuns pleeg, vertel Esther jou van haar lyf. Want elke lyf het sy eie storie.
​
Met Candice Botha
Teks: Braam van der Vyver
Regie: Èmil Haarhoff

Kleur
Tannie Trudie het gesê hy’s spesiaal: mense soos hy bring kleur aan ‘n vaal wêreld. Daarom hou hy van inkleur. Sy ma verkies ‘n grys bestaan en hy moet nou in die buitekamer bly. Tot daar iemand opdaag wat dalk net soveel van kleur hou.
Met Ben Blignaut
Teks en regie: Johann Smith
PAKKET 4

Spyt *
Soos die potte op die stoof, prut en borrel daar dinge in Else se gemoed. Die laaste tyd raas die spoke in haar kop. As sy terugkyk na haar lewe, kook sy ook van binne oor al die spyt en verwyt.
Met Marintha Labuschagne
Teks: Flip Schutte
Regie: Rudi Sadler
* Die aande van 5, 7 en 12 Februarie 2019 sal Spyt vervang word met Lelik (geskryf en opgevoer deur Johann Smith, met regie deur Roche van Blerk).

Net
Koop jou sirkuskaartjie nou. Net vanaand: die land se beste trapese-kunstenaar duo herhaal die grootste toertjie van die eeu. Twintig meter in die lug, sonder ‘n net.
Met Ben Pienaar
Teks en regie: Henque Heymans

Wieg
As die ding slaap, as die duiwel rus en die monster nie honger is nie, dan is hy weerloos, so weerloos in sy bedjie… die bedjie wat ek aanhou wieg en wieg en wieg terwyl ek bid.
Met Zelda Roelofs
Teks: Philip Rademeyer
Regie: Lara Lourens