top of page

Meer oor DEURnis

Wat is DEURnis?


DEURnis word beskou as ‘n opwindende nuwe teaterervaring en ‘n eerste vir Suid-Afrika. DEURnis een-tot-een is grensverskuiwende teater tussen een akteur en een gehoorlid op ‘n slag. Dié unieke een-tot-een produksie speel af in ‘n vertrek van ‘n huis of gebou en het as plekspesifieke teater dus ‘n baie intieme benadering. DEURnis 20-voor-2 is ‘n uitbreiding van een-tot-een en is ook plekspesifieke teater waar 20 gehoorlede strategies in ‘n vertrek geplaas word terwyl twee akteurs tussen hulle optree – ideaal vir dié gehoorlid wat graag meer wil waag. 

​

​

Agtergrond


Die idee van DEURnis het ontstaan gedurende ‘n oorsese reis in Europa waartydens Johan van der Merwe en Johann Smith afsonderlik een-tot-een teaterervarings beleef het. Hulle het besef watter impak dit op die Suid-Afrikaanse teaterlandskap kan hê, maar wou dit nog verder neem met ‘n sterk fokus op kwaliteit en inhoud, en só is DEURnis gebore.

​

Na afloop van die eerste toetslopie in Pretoria in November 2016 is DEURnis deur resensente en die publiek geloof vir die wyse waarop dit kreatief die grense van tradisionele teater beproef, terwyl dit allerdaagse sosiale kwessies opnuut belig. 

​

Danksy die uniekheid van die projek ontvang DEURnis ook wye mediadekking en belangstelling en is dit onder meer bekroon met die gesogde Blou Fiësta tydens die 2018 kykNET Fiësta-toekennings (sien toekennings en benoemings laer af). 

​

DEURnis se speelvakke sluit in Pretoria, Centurion, Aardklop, Woordfees, Vrystaat Kunstefees, National Arts Festival en Kaapstad (2019).

​

Die projek word vervaardiger deur Theatrerocket.

DEURnis-logo-een-tot-een-white.png
DEURnis een-tot-een: hoe werk dit?


DEURnis bestaan uit verskeie nuutgeskrewe tekste, elk geskep vir ‘n spesifieke vertrek in ‘n huis of gebou. Met een-tot-een duur ‘n toneel ongeveer 20 minute en ‘n gehoorlid beweeg tussen die vertrekke om die onderskeie stukke te kyk. Toneelstukke word as pakette verkoop en ‘n kaartjie gee ‘n gehoorlid toegang tot drie saamgegroepeerde toneelstukke, wat saam met die pouses tussen-in ongeveer 90 minute duur.

​

Die titel van die projek, DEURnis, is ‘n samevoeging van die woorde “DEUR” en “deernis”. Aan die anderkant van die deur wat lei na die toneel kan die gehoorlid ‘n stuk verwag wat met deernis en gestroopte eerlikheid vertel word terwyl dit emosionele en sosiale vraagstukke aanspreek.

​

Die tekste word beoordeel op artistieke gehalte en word geskryf deur opkomende sowel as gevestigde dramaturge, terwyl die projek geleethede skep vir ‘n wye netwerk van  skrywers, akteurs en regisseurs.

​

​

Feesdebuut


Na twee suksesvolle speelvakke in Pretoria het DEURnis een-tot-een in 2017, in samewerking met Aardklop Nasionale Kunstefees, sy feesdebuut in Potchefstroom gemaak met 12 toneelstukke. Dit het die fees se nuwe grensverskuiwende venue Atrium ingewy waar al 12 toneelstukke in een huis afgespeel het.

​

​

Toekennings


Buiten die 2018 kykNET Blou Fiësta, is DEURnis in beide 2017 en 2018 benoem vir ‘n ATKV-Woordveertjie vir Beste Nuutgeskrewe Dramateks. In 2018 ontvang DEURnis-skrywers (Johann Smith, Henque Heymans, Corné Joubert, Braam van der Vyver en Shareen Swart) dié gesogte toekenning. 

​

Drie produksies word tydens die 2018 Vrystaat Kunstefees benoem vir Beste Produksie (Vrystaat), waarvan een (Bang) met die toekenning wegstap. Die aktrise (Mia-Anne O’Kennedy) en regisseur (Debeer Cloete) van dié toneelstuk word elk ook as Beste Kunstenaar (Vrystaat) benoem.

​

Die projek word in 2017 ook by Aardklop benoem as Beste Algehele Aanbieding en Beste Akteur (Dewie van der Merwe). Laasgenoemde word ook benoem vir ‘n 2018 kykNET Fiësta-toekenning as Beste Opkomende Kunstenaar vir sy spel in Rou. In 2019 word Ben Pienaar by US Woordfees vir 'n WoordTROfee benoem as Beste Akteur in Net.

20-voor-2-logo-wit-2.png
DEURnis  20-voor-2


20-voor-2 is die volgende opwindende fase in DEURnis se snelgroeiende bestaan wat die projek se gewildheid en volhoubaarheid verder ondersteun. 

​

DEURnis 20-voor-2 is dus ‘n uitbreiding van van die een-tot-een ervaring: teater tussen 20 gehoorlede en twee akteurs. Dit is egter allesbehalwe tradisionele teater – dus ideaal vir dié gehoorlid wat graag meer wil waag.

​

20-voor-2 is ook plekspesifieke teater waar die gehoor strategies in ‘n vertrek geplaas word. Gehoorlede sal byvoorbeeld aansit om ‘n gedekte etenstafel terwyl twee akteurs tussen hulle of op die tafel voor hulle optree. Verskeie teaterstyle word ingespan (onder meer absurde teater, instellasieteater, ens) en dit beloof om grense te verskuif.

​

Die tydsduur van ‘n toneelstuk is ongeveer 45 minute en gehoorlede sal vir een kaartjie twee stukke direk na mekaar kan sien (dus 90 minute met ‘n pouse). 

​

Buiten die 12 splinternuwe een-tot-een teaterstukke, debuteer vier 20-voor-2 stukke by Aardklop 2018.

​

​

Vorige optredes en toekomsplanne

​

In Februarie 2018 is verskeie toneelstukke by die Lucit restaurant-venue in Pretoria aangebied.

​

Nege stukke word aangebied by die 2018 Vrystaat Kunstefees, waarvan drie plaaslike akteurs en regisseurs uit Bloemfontein betrek. Die moontlikheid vir samewerking en uitruilprogramme met internasionale kunstenaars en vervaardigers word ook bespreek tydens ‘n speelvak by die Pan-African Creative Exchange (PACE) in Bloemfontein. 

​

‘n Totaal van 16 produksies (twaalf splinternuwe een-tot-een en vier 20-voor-2 stukke) debuteer by Aardklop Kunstefees 2018, terwyl DEURnis sy Kaapse debuut maak by die 2019 US Woordfees. In samewerking met die Markteater, die Market Lab en die Windybrow Arts Centre in Johannesburg word 12 multikulturele produksies opgevoer by die Nasionale Kunstefees in Makhanda (voorheen Grahamstad) en DEURnis word in samewerking met Spier aangebied by Wrensch House in Kaapstad in 2019. Werkswinkels by verskeie skole in Pretoria ondersteun ook DEURnis se fokus op jeugontwikkeling.

​

​

Meer inligting


Vir meer inligting, besoek gerus die volgende skakels deur op die woord in bold of die datum te kliek:

 

​

Besoek ook gerus ons facebookblad waar daar verskeie foto’s, promosie-videos en video-onderhoude met gehoorlede verskyn, insluitend Ismail Mahomed, Henry Milne, Hugo Theart, Alexa Strachan, Anna Davel, Nico Scheepers en ander.

bottom of page